News

Ongeouditeerde tussentydse resultate vir die ses maande geëindig 31 Maart 2016

Belegging in SA hospitale dien groeiende vraag

Monday, May 16 2016

Netcare Beperk het vandag sy ongeouditeerde tussentydse resultate vir die tydperk tot 31 Maart 2016 aangekondig.

Hoogtepunte

  • Groepinkomste styg met 15.4% tot R18 814 miljoen
  • Groepverdienste voor VVRBWA styg met 13.6% tot R2 663 miljoen
  • Groepwins na belasting styg met 20.7% tot R1 329 miljoen
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 10.9% tot 90.3 sent
  • Tussentydse dividend per aandeel van 38.0 sent

In sy kommentaar oor die resultate het die hoof uitvoerende beampte van die Netcare Groep, dr. Richard Friedland, gesê die tussentydse resultate van Maart 2016 bou voort op die Groep se uitbreidings- en herstruktureringsinisiatiewe van die vorige jaar. “In die September 2015 finansiële jaar het ons ’n suksesvolle uitbreidingsprogram in Suid-Afrika (SA) onderneem en 584 nuwe beddens – insluitend twee hospitale – by ons portefeulje gevoeg, en ’n ingrypende herstrukturering van ons werksaamhede in die Verenigde Koninkryk (VK) afgehandel. Die fokus vir 2016 is die groter benutting van die beduidende nuwe kapasiteit in ons portefeulje.”

Vir die ses-maande tydperk tot 31 Maart 2016 het Groepinkomste met 15.4% tot R18 814 miljoen gestyg (2015: R16 304 miljoen). Valuta-omrekening van die VK-werksaamhede het R1 916 miljoen tot hierdie styging bygedra, teen ’n gemiddelde Rand/Pond Sterling-wisselkoers van R22.10 (24.4% swakker as die R17.76 van toepassing op die vergelykende tydperk in 2015).

Groepverdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (VVRBWA) het met 13.6% tot R2 663 miljoen gestyg (2015: R2 344 miljoen), met ’n SA bydrae van R1 957 miljoen tot hierdie totaal.

Groepbedryfswins het met 11.0% tot R1 952 miljoen verbeter (2015: R1 758 miljoen); wins voor belasting was 16.6% hoër op R1 781 miljoen (2015: R1 527 miljoen); wins na belasting het met 20.7% gestyg tot R1 329 miljoen (2015: R1 101 miljoen); en WVPA het met 10.9% tot 90.3 sent toegeneem.

Die Groep se netto skuld was R6 721 miljoen (Maart 2015: R5 543 miljoen); rentedekking het verbeter tot 10.4 keer (Maart 2015: 9.6 keer); en kapitaalbesteding insluitende ontasbare bates het R1 088 miljoen beloop, waarvan R886 miljoen in SA belê is (2015 totaal: R531 miljoen).

Oorsig van afdelings

A: Suid-Afrika (Hospitale en Nooddienste, en Primêre Sorg)

Inkomste in hierdie geografiese gebied het met 8.5% tot R9 011 miljoen gestyg (2015: R8 307 miljoen) en VVRBWA het met 3.4% tot R1 957 miljoen toegeneem (2015: R1 893 miljoen) teen ’n marge van 21.7% (2015: 22.8%). Bedryfswins het met 0.9% tot R1 655 miljoen gestyg (2015: R1 640 miljoen).

“Netcare se SA kwaliteitwerksaamhede vaar steeds goed gemeet teen meer as 300 maatstawwe van gehaltebestuur, en verskeie inisiatiewe versterk ons drieledige (“Triple Aim”) doelwitte van beste pasiënt-uitkomste, beste pasiënt-ervaring en kostedoeltreffende sorg ,” sê dr. Friedland.

  • SA Hospitale en Nooddienste

Die Hospitaal-afdeling het ’n sterk vraag na privaat gesondheidsorgdienste ondervind, ondanks lae ekonomiese groei en ’n daling in die ledetal van mediese skemas.

Pasiëntdae het met 2.8% gegroei, met laer aktiwiteit in Maart weens die Paasvakansie, wat gedurende die vergelykende tydperk in April geval het. Teen einde April 2016 het pasiëntdae vir die jaar tot op datum genormaliseer tot ‘n 4.0% groei.

Inkomste per pasiëntdag het met 5.2% gestyg, wat ’n verskuiwing van chirurgiese na mediese gevalle, wat ’n laer inkomste per toelating beteken, weerspieel.

Besettingsyfers is verwater deur die toevoeging van die 584 nuwe beddens in die vorige jaar, met besettingsvlakke wat tot 64.4% gedaal het (Maart 2015: 66.6%). Die Netcare Polokwane (200 beddens) en Netcare Pinehaven (100 beddens) hospitale is teen die September 2015-jaareinde geopen. Dr. Friedland sê: “Die nuwe hospitale het ons verwagtings oortref en in Februarie en Maart 2016 besettingsvlakke bo 50% gehaal. Ons het verwag dat hierdie mylpaal eers teen die 2016 finansiële jaareinde bereik sou word.”

Marges in hierdie afdeling is deur verskeie faktore beïnvloed, waaronder ’n kombinasie van stygende inflasie en randswakheid wat ’n impak op arbeid gehad het, koste van verkope en ander bedryfskostes; ‘n negatiewe bydrae van die twee hospitale wat nog ten volle op dreef moet kom; en die verskuiwing in die samestelling ten gunste van mediese gevalle. Bedryfsuitnemendheidsvoordele is verkry uit die streng bestuur van verpleegpersoneel en die bestuur van energieverbruik en doeltreffendeaanskaffing, hoewel dit nie genoeg was om die teenwerkende margedruk te absorbeer nie. Groepdoeltreffendheidsprojekte wat op die optimalisering van inligtingstegnologie en digitalisering van papiergebaseerde prosesse fokus, is daarop gemik om verdere voordele gedurende die volgende 18 tot 24 maande te lewer.

Bedryfswins is geraak deur groter waardeverminderingskoste ten opsigte van die nuwe hospitale en bykomende kapasiteit wat in 2015 toegevoeg is.

Geen nuwe beddens is in die tussentydperk toegevoeg nie, maar 85 nuwe beddens word in die tweede helfte van 2016 verwag. Die fokus is om die benutting van die beduidende kapasiteitstoevoegings van 2015 te verhoog. Groot uitbreidingsprojekte wat tans aan die gang is, sluit in die herontwikkeling van Netcare Milpark Hospitaal en voortgesette konstruksie van die hervestigde Netcare Christiaan Barnard Gedenkhospitaal, wat na verwagting in Desember 2016 sal open om saam te val met die 49ste herdenking van die eerste hartoorplanting.

  • SA Primêre Sorg – Medicross en Prime Cure

 Medicross se nasionale netwerk van gesins- mediese en tandheelkundige sentrums het bestendig presteer, terwyl die gesondheidsorgbestuur verskaffer, Prime Cure, ‘n stewige prestasie gelewer het.

 Medicross is besig om sy dagteaters en sub-akute fasiliteite uit te brei. In die huidige tydperk het Medicross ’n sub-akute fasiliteit met 16 beddens in Pietermaritzburg verkry, sowel as een met 20 beddens in Amanzimtoti. In die 2017 en 2018 finansiële jare sal Medicross dagteater-klinieke in Kimberley, Upington, Kaapstad en Richardsbaai open, asook sub-akute fasiliteite in Hillcrest, Kaapstad en Richardsbaai.
B: Verenigde Koninkryk

“BMI Healthcare ervaar ’n verskuiwing in die samestelling van betalers in sy sleutelmarkte naamlik die National Health Service, privaat mediese versekering en privaat selfbetalende pasiënte, wat duidelik in ons inkomste en marges weerspieël word,” sê dr. Friedland.

In die geheel het aktiwiteit verder gegroei, met ’n toename van 0.4% in die hospitaal- en dag-pasiëntgevallelading. Die tydval van die Paasvakansie het tot gevolg gehad dat aktiwiteit laer was in Maart 2016, maar vir die jaar tot op datum het die groei in hospitaalpasiënt- en dag-gevalle teen einde April 2016 weer genormaliseer tot 1.2%.

Die NHS-gevallelading het met 5.4% toegeneem, en 41.1% van BMI Healthcare se totale gevallelading uitgemaak op 31 Maart 2016 (2015: 38.9%). Die NHS e-Referrals (voorheen bekend as Choose & Book) gevalleladings was 8.5% hoër. E-Referrals is ’n elektroniese besprekingstelsel wat dit vir die pasiënt moontlik maak om self hulle voorkeurfasiliteit te kies en te bespreek. Die groei is egter teengewerk deur ’n afname in prosedures wat die NHS by geleentheid van privaatvoorsieners koop.

Die mark vir privaat mediese versekering (PMV) bly swak, maar die vraag na selfbetaling het toegeneem. Hierdie gevallelading het met 4.6% gestyg terwyl die NHS se waglyste steeds groei.

Inkomste het met 1.4% tot £444.0 miljoen gedaal (2015: £450.2 miljoen). Dit weerspieël die voortgaande verskuiwing na laer-tarief NHS-werk en die groter getal prosedures en dienste wat in ’n buitepasiënt-omgewing plaasvind. VVRBWA het met 26.4% tot £32.1 miljoen verbeter (2015: £25.4 miljoen). Die VVRBWA-marge sonder eenmalige items was 6.8% (2015: 7.0%); bedryfswins het met 103.0% tot £13.6 miljoen verbeter (2015: £6.7 miljoen); en wins na belasting van £5.8 miljoen was ’n verbetering op die verlies van £4.7 miljoen in die ooreenstemmende tydperk.

Dr. Friedland het verduidelik dat die verandering in die samestelling van betalers in die VK druk op marges plaas. “Dit beteken dat ons sterk fokus op doeltreffendheid, die stroombelyning van prosesse en die groei van ons komplekse gevallelading.”

Kapitaalbesteding van £9.1 miljoen (2015: £12.3 miljoen) was toegespits op projekte wat daarop gemik is om nuwe inkomstestrome te skep en die hospitaalportefeulje te versterk. BMI Healthcare handhaaf ’n gemaklike finansieringsposisie en kom skuldooreenkomste ten volle na.

BMI Healthcare voer tans vertroulike samesprekings met die PropCos oor ’n moontlike huurverminderingstransaksie, en is daarop ingestel om voorwaardes te beding wat albei partye pas.

Vooruitsig

In Suid-Afrika verwag die Groep, ondanks die voortdurende ekonomiese swakheid en hoë werkloosheid, dat die vraag na privaat gesondheidsorg veerkragtig sal bly.

“Namate die nuwe fasiliteite wat in 2015 geopen is op dreef kom, verwag ons dat besettingsvlakke verder sal verbeter,” sê dr. Friedland. “Ons sal voorts konsentreer op groeiprojekte en inisiatiewe wat bedryfsuitnemendheid en gehalteverbetering bevorder, in ooreenstemming met ons drieledige (“Triple Aim”) doelwitte, en ons verwag dat inligtingstegnologie- en outomatiseringsprojekte in die komende jare doeltreffendheidsvoordele sal bied.”

Kapitaalbesteding van sowat R2 miljard word vir 2016 in SA beplan, soos wat die Netcare Christiaan Barnard Gedenkhospitaal voltooiing nader, verdere uitbreidingsprojekte vorder, en ons diensaanbieding uitbrei – veral wat dagteaters en sub-akute dienste betref.

In die VK sal BMI Healthcare voortgaan om die gaping in gesondheidsorgaanvraag te ontgin terwyl die publieke sektor NHS se onder verdere bedryfs- en finansiële druk kom. NHS-dienste sal baat by ’n tariefverhoging van ongeveer 1% vanaf April 2016, en daar word verwag dat groei in die e-Referrals-segment sal voortduur. Die verwagting is dat die PMV-mark oor die korttermyn steeds pap sal vertoon, maar aanvraag in die selfbetaling-segment behoort toe te neem namate die NHS-waglyste langer word. BMI Healthcare beplan om in 2016 sowat £43.0 miljoen aan kapitaalprojekte te bestee, waaronder tegnologie en verbeterings aan die hospitaal-infrastruktuur.

Dr. Friedland sê ten slotte dat die Netcare Groep sal voortgaan om internasionale uitbreidingsgeleenthede wat aan sy strategiese maatstawwe en beleggingsverwagtings voldoen te evalueer.

Einde

AANTEKENINGE VIR JOERNALISTE
Meer oor Netcare Beperk (Netcare)

Netcare (JSE-kode: NTC) het ’n markkapitalisasie van R53 miljard (op 30 September 2015). Netcare is Suid-Afrika se mees bemagtigde maatskappy in die gesondheidsorgsektor, en beklee die 11de algehelle posisie op die JSE, in die jongste (2015) Top 100 Most Empowered JSE Listed Companies Report.

Netcare se prestasies ten opsigte van die breër aspekte onderliggend aan volhoubaarheid, insluitend sy verbintenis tot goeie korporatiewe bestuur en sy prestasie en bydraes op ekonomiese, maatskaplike en omgewings terreine, het erkenning geniet deur ’n Brons-klas onderskeiding en insluiting in die 2016 RobecoSAM ‘The Sustainability Yearbook’, die wêreld se omvattendste publikasie oor korporatiewe volhoubaarheid. Netcare is ook in die Dow Jones se Wêreld-volhoubaarheidsindeks en die Dow Jones se Volhoubaarheidsindeks vir Opkomende Markte ingesluit, asook in die FTSE Russell Indeks, wat in vennootskap met die JSE tot stand gebring is.

Netcare se kernwaarde is sorg. Vier ander waardes vloei hieruit voort, naamlik waardigheid, deelname, eerlikheid en passie. Ons werk hard om hierdie waardes te verskans in elke optrede, besluit en ingryping wat ons pasiënte, hul gesinne, ons kollegas en gemeenskappe raak.

Uitgereik deur: Martina Nicholson Associates (MNA) namens Netcare
Kontak: Martina Nicholson, Graeme Swinney of Meggan Saville
Telefoon: (011) 469 3016
E-pos: [email protected], [email protected], of [email protected]