News

Ongeouditeerde tussentydse resultate vir die ses maande geëindig 31 Maart 2017

Ouerwordende bevolking, n groeiende siektelas en mediese innovasie sal na verwaging steeds die vraag na privaat gesondheidsorg oor die medium tot langer termyn stimuleer

Monday, May 15 2017

Hoogtepunte

  • SA inkomste styg met 2.3% tot R9 218 miljoen
  • VK-inkomste styg met 3.2% tot £458.0 miljoen
  • Groepinkomste 10.1% laer tot R16 912 miljoen (23.9% negatiewe afwyking in gemiddelde wisselkoers)
  • Aangepaste wesensverdienste per aandeel 11.4% laer na 80.6 sent
  • Tussentydse dividend per aandeel van 38.0 sent

Oorsig

In sy kommentaar oor die resultate het die hoof uitvoerende beampte van Netcare, Dr. Richard Friedland, gesê dit was ’n uitdagende handelsperiode. “Hoewel ons groepinkomste in plaaslike geldeenhede groei – beide in Suid-Afrika (SA) en die Verenigde Koninkryk (VK) – het die versterking van die Rand ’n negatiewe uitwerking op die omrekening van ons VK-resultate gehad.”

Die finansiële resultate is deur twee belangrike nie-handelsitems ondersteun, naamlik ’n nie-kontantvoordeel met betrekking tot die herwaardasie van die VK Kleinhandelsprysindeks se ruilinstrumente teenoor markwaarde, en ’n kapitaalwins met die verkoop van die ou Netcare Christiaan Barnard Gedenkhospitaal (CBGH) se perseel en geboue.

Met uitsluiting van beide buitengewone items was die verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (VVRBWA) 13.1% laer teen R2 313 miljoen, het genormaliseerde wins na belasting met 15.6% afgeneem en was aangepaste wesensverdienste per aandeel (aangepaste WVPA) 11.4% minder teen 80.6 sent (2016: 91.0 sent).

Groepinkomste het met 10.1% tot R16 912 miljoen gedaal (2016: R18 814 miljoen). Teen ’n konstante wisselkoers het groepinkomste egter met 2.7% gegroei. Die wisselkoersomrekening het gerapporteerde inkomste met R2 418 miljoen (12.8%) verminder, as gevolg van ’n sterker Rand.

Oorsig van afdelings

Suid-Afrika
Hoewel die besigheid lae ekonomiese groei moes trotseer, het inkomste in SA met 2.3% tot R9 218 miljoen gestyg (2016: R9 011 miljoen).

Met uitsluiting van die nie-handelskapitaalwins met die verkoop van die ou Netcare CBGH se perseel en geboue, was SA VVRBWA 2.1% laer op R1 915 miljoen (2016: R1 957 miljoen) en bedryfswins 3.6% laer op R1 595 miljoen (2016: R1 655 miljoen).

Hospitale en Nooddienste
Inkomste in hierdie afdeling het met R391 miljoen (4.6%) toegeneem teenoor die vergelykende tydperk. Pasiëntdae is beïnvloed deur ’n afname in aktiwiteit van privaat betalende en buitelandse pasiënte, asook pasiënte wat aan diens beseer is en deur die Werkersvergoedingsfonds gedek word, en in ’n mindere mate deur meer aktiewe gevallebestuur deur mediese skemas. Volweek besettingsvlakaktiwiteite het ooreenstemmend afgeneem tot 63.2% (2016: 64.4%).

Die toename in meer komplekse gevalle as deel van die algehele gevallelading wat Netcare by  sy hospitale ervaar het, het gelei tot ’n styging van 7.4% in inkomste per pasiëntdag, wat bo tariefinflasie is.

Resultate is negatief geraak deur ’n daling in Nooddienste se inkomste uit industriële bedrywighede in Mosambiek, waar strawwe ekonomiese toestande aktiwiteit in die myn- en hulpbronsektore ingekort het. Die posisie is vererger deur ’n nie-kontantverwante rekeningkundige fout wat verband hou met die vorige jaar en reggestel is in die eerste helfte van 2017, in die Nooddienste-afdeling.

Die VVRBWA-marge het gekrimp tot 21.1% (2016: 22.6%). Die marge is negatief beïnvloed deur die volgende aspekte:

  • Laer as verwagte volumes, tesame met ’n hoër vraag na intensiewesorgdienste voortspruitend uit meer komplekse gevalle, wat druk geplaas het op die bestuur van direkte salarisse, aangesien meer gespesialiseerde sorg nodig is. Dit het ook gelei tot die verbruik van duurder medikasie en/of chirurgiese verbruiksgoedere waarop geen marge verdien word nie;
  • Huurkoste van R16 miljoen vir die nuwe Netcare CBGH in die eerste helfte van 2017, met ’n impak van 20 basispunte op die VVRBWA-marge; en
  • Die impak van Nooddienste, wat vir 80 basispunte van die daling in die VVRBWA-marge verantwoordelik was, waarvan 50 basispunte toeskryfbaar is aan die regstelling van die nie-kontantverwante rekeningkundige fout uit die vorige periode, en 30 basispunte aan die daling in die Mosambiek-besigheid.

In sy kommentaar oor die verskuiwing van die Netcare CBGH na die waterkantgebied in Kaapstad, het Dr. Friedland gesê: “Ons het reeds groei van 5.8% in pasiëntdae gedurende die verslagtydperk gesien, ondanks die feit dat ons slegs vier maande van die verslagtydperk in die nuwe gebou was. Die opening van die nuwe hospitaal is die eerste fase van ’n ontwikkeling wat sal lei tot die vestiging van ’n mediese buurt en sentrum van uitnemendheid wat die eerste in sy soort in SA is, en ’n omvattende reeks primêre, sekondêre en tersiêre mediese, nood-, diagnostiese en rehabilitasiedienste sal aanbied.”

Die koop van die Akeso Clinics, wat uit 12 privaat geestesgesondheidsinrigtings bestaan, is in November 2016 aangekondig en die transaksie is aan die Mededingingskommissie voorgelê vir goedkeuring. “Ongelukkig sien ons ’n toename in geestesiektes in SA,” sê Dr Friedland, “en Netcare is onderverteenwoordig in hierdie sektor. Hierdie transaksie sal nie in die eerste jaar vir ons verdienste lewer nie, maar daarna sal dit geleidelik toeneem, en word deur bestaande skuldfasiliteite befonds.”

Primêre Sorg

Medicross se nasionale netwerk van gesins- mediese en tandheelkundige sentrums het sy kleinhandelsapteek-bedrywighede met ingang van 1 Desember 2016 uitgekontrakteer.

Primêre Sorg se inkomste van R389 miljoen (2016: R573 miljoen) was 32.1% laer. Bedryfswins is negatief geraak deur die beginkoste van nuwe dagklinieke en sub-akute fasiliteite en verwante waardeverminderingskoste, terwyl die VVRBWA-marge van 9.2% tot 12.9% verbeter het en die voordeel weerspieël van die uitkontraktering van die kleinhandelsapteke, wat inkomste uit kleinhandelsapteke deur huurinkomste vervang.

Verenigde Koninkryk

In die VK bedien BMI Healthcare (BMI) se hospitaalnetwerk die National Health Services (NHS), privaat mediese versekering en selfbetalende kliënte.

In ’n moeilike handelsomgewing het inkomste in die plaaslike geldeenheid met 3.2% tot £458.0 miljoen gestyg (2016: £444.0 miljoen), terwyl BMI se hospitaal- en dagpasiëntgevallelading met 2.6% toegeneem het.

NHS-volumes, wat nou 43.5% van die totale gevallelading uitmaak, is steeds die vernaamste groeidryfveer van aktiwiteit. Die NHS-gevallelading het 8.5% groei getoon. E-Referrals se gevallelading het met 10.2% toegeneem (2016: 8.5%), terwyl prosedures wat die NHS by geleentheid van privaat voorsieners koop, onveranderd gebly het en die finansiële druk by baie NHS Trusts weerspieël.

Daar was geen verandering in die faktore wat die privaat mediese versekeringsmark affekteer nie. Die gevallelading het gedurende die verslagtydperk met 3.6% afgeneem.

Volgehoue groei in selfbetaling aktiwiteit het ’n toename van 6.4% getoon. “Ons skryf hierdie styging toe aan groeiende NHS-waglyste, asook ons pakketprysstruktuur, uitgebreide reeks dienste en teikenbemarkingsveldtogte,” sê Dr. Friedland.

BMI se VVRBWA was 25.2% laer teen £24.0 miljoen (2016: £32.1 miljoen) met ’n marge van 5.2% (2016: 7.2%), hoofsaaklik weens stygings in huurkoste en ander eenmalige kredietitems in 2016 wat nie weer voorgekom het nie. Bedryfswins was 55.9% laer op £6.0 miljoen (2016: £13.6 miljoen).

In April 2017 het BMI Healthcare ’n herfinansiering van sy bestaande skuldfasiliteite afgehandel. Die nuwe skuldpakket bestaan uit ’n 5-jaar termynlening B-fasiliteit van £85 miljoen en ’n wentelkredietfasiliteit van £50 miljoen, met die verdere uitstel van die skuld wat namens Netcare gehou word tot April 2023.

Vooruitsig

Wat die vooruitsig vir SA betref, sê Dr. Friedland: “Ons verwag dat die vraag na privaat gesondheidsorg veerkragtig sal bly oor die medium en langer termyn, as gevolg van die ouerwordende bevolking, die groeiende siektelas en mediese innovasie.”

“Ekonomiese druk en ingrypings deur mediese skemas kan egter die vraag na ons dienste oor die korttermyn beperk. Groei word nog steeds verwag van die nuwe kapasiteit wat die afgelope twee jaar bygevoeg is. Volgehoue voordele sal verkry word uit ons langtermyn-bedryfsuitnemendheids- en gehalteverbeteringsprojekte, in ooreenstemming met ons verbintenis tot beste uitkomste, beste ervaring en kostedoeltreffende sorg vir ons pasiënte. Ons inligtingstegnologie- en outomatiseringsprojekte is toegespits op die optimalisering van ons kostebasis om in die toekoms volhoubare opbrengste te lewer.”

Beplande kapitaalbesteding in SA vir die volle jaar sal na verwagting sowat R1.7 miljard beloop, wat die verdere ontwikkeling van die nuwe Netcare CBGH mediese buurt en die uitbreiding van Netcare Milpark Hospitaal insluit, asook instandhouding en opgradering van mediese toerusting en die eiendomsportefeulje.

Oor die mark in die VK het Dr. Friedland ten slotte gesê: “Die NHS het met voortgesette beperkings te kampe en dit behoort tot ’n verdere toename in die behandeling van NHS-befondsde pasiënte in privaat fasiliteite asook groei in die selfbetalingsegment te lei. Ons verwag nie ’n beduidende verbetering in die privaat mediese versekeringsmark oor die kort termyn nie.”

Verdere verbetering van pasiëntbehandelingsriglyne en die verkryging van bedryfsdoeltreffendheids­voordele sal steeds regdeur die besigheid nagestreef word.

BMI Healthcare verwag om in 2017 sowat £52.0 miljoen aan kapitaalprojekte te bestee om sy hospitaal-infrastruktuur te verbeter, sy diagnostiese kapasiteit uit te brei en aan die voorpunt te bly van tegnologiese ontwikkelinge.

Einde

Aantekeninge vir joernaliste
Netcare (JSE: NTC) is op die JSE genoteer en word as Suid-Afrika se mees bemagtigde maatskappy in die gesondheidsorgsektor beskou. Netcare beklee algeheel die 16de plek op die JSE in die JSE se 2016-verslag oor die top 100 mees bemagtigde JSE-genoteerde maatskappye (Top 100 Most Empowered JSE Listed Companies Report).

In Suid-Afrika bedryf Netcare die grootste netwerke van privaat hospitale, primêre gesondheidsorg, mediese nooddienste en niersorg. Benewens sy wêreldklas akute privaat hospitaaldienste in Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk (laasgenoemde word deur BMI Healthcare aangebied), lewer Netcare:

  • primêre gesondheidsorgdienste, beroepsgesondheid- en werknemerwelstand-dienste deur Medicross en Prime Cure;
  • mediese nooddienste deur Netcare 911; en
  • nierdialise deur National Renal Care.

Netcare het hom ook onderskei as ’n toonaangewende privaat opleier van nood mediese en verpleegpersoneel in die land.

Netcare se kernwaarde is sorg. Vier ander waardes vloei hieruit voort, naamlik waardigheid, deelname, eerlikheid en passie. Ons werk hard om hierdie waardes te verskans in elke optrede, besluit en ingryping wat ons pasiënte, hul gesinne, ons kollegas en gemeenskappe raak.
Vir meer inligting, besoek www.netcare.co.za

Uitgereik deur: Martina Nicholson Associates (MNA) namens Netcare
Kontak:                 Martina Nicholson, Graeme Swinney, Meggan Saville of Pieter Rossouw
Telefoon:            (011) 469 3016
E-pos:                   [email protected], [email protected], [email protected] of [email protected]